Nou in Teaters
#MoenieDinkNieDoenNet
logo.png
Armand Aucamp
Jacques Bessenger
Rolanda Marais
Donnalee Roberts
typewriter.png
logo.png
Carina Human
Cindy Swanepoel
Donnalee Roberts
Mysi Moolman
logo.png
Armand Aucamp
Jacques Rynhard
Edwin van der Walt
logo.png
Rolanda Marais
Lena Aucamp
Christia Visser
logo.png
Jacques Bessenger
Jan-Paul Otto
Luan Jacobs

Die Roman

In die roman kon ek die storie wyer oopmaak en in die karakters se koppe inklim wat ek nie noodwendig in die destydse TV-reeks of die film kon doen nie. Die “ek”-verteller in Jacques se eie woorde het ʼn nuwe dimensie na hom en sy innerlike landskap en persoonlikheid gebring.

Ek kon ook vry wees en die storie skryf soos dit in werklikheid vertel moes word sonder om dit te versag, of te sensureer en dit net skryf soos ek dit gesien het. Ek hoef dit dus nie vir ʼn spesifieke gehoor aan te gepas het nie. Wat ʼn wonderlike vryheid!

Al die karakters, soos Chivas, Jacques se tweede ma (wat in werklikheid op my eie ma gebaseer is), het in die roman vrye teuels gehad om behoorlik asem te haal en van hom, hopelik, ʼn ronder en beter karakter te maak. Sy is nie in die rolprent nie vanweë tydsfaktore.

Maar die roman gaan veral om wat ná Jacques se “bloedtyd” gebeur het en die wonderlike ekstase wat hy in New York gesmaak het – die stad waar hy mens geword het en die lewe en ʼn ander soort liefde ontdek het. Soms dink ek Jacques het New York liewer as wat hy skryf of enige mens ooit sal hê. Hy bemin daardie stad hartstogtelik en dit kom sterk in die roman uit, maar so ook Johannesburg – ʼn stad wat iewers tussen Afrika en die New York van Amerika sy plek vind en wat daagliks verander. Dit is ook Johannesburg se beeldskone verval aan die een kant en sy moderne vooruitgang aan die ander kant wat die roman dryf.

Die roman gee dus die volle prentjie. Iets wat die film met sy beperkte tyd nie altyd kan doen nie.

Die Storie Agter die Storie

Ballade vir ʼn Enkeling het ontstaan toe ek ʼn kind was wat self langs ʼn treinspoor grootgeword het, en wie se pa en ma my gereeld snags uitgedra het tuinhekkie toe om vir die masjiniste te waai wat dan die fluit luid getrek het tot onsteltenis van al die bure twee-uur in die oggend!

Ek het al as kind gewonder wat eendag met my sou gebeur het as ek my wonderlike ouers sou verloor en twee mislukkings soos Klaus en Liebet sou kry. Hulle was my grootste monsters, daardie twee in my verbeelding! Ek weet nie of ek dit sou oorleef het nie.

Hoërskool was vir my ʼn baie onaangename ervaring en daardie elemente vind inslag in die film, veral wanneer ʼn skrywer met onderwysers en sekere skoolmaats te doen kry wat hom vir die res van sy lewe sou skaad. Hoe ’n skeppende brein dit verwerk en uiteindelik vrede daarmee maak is die kern van die rolprent.

Ek verstaan Jacques Rynhard as skrywer en mens aangesien ek, op emosionele vlak, identifiseer met die probleme wat ʼn skrywer op die lyf loop. Dit is veral die proses van skryf wat onder andere in die rolprent ondersoek word, veral wanneer die joernalis Carina op Jacques se geskrifte afkom in sy woonstel. In die roman was dit maklik om te ontgin as die “ek”-verteller, maar in die film word dit as ʼn stem-oor tegniek gebruik waar Carina uittreksels uit sy dagboek lees en wat Quentin Krog, die regisseur, gevisualiseer het om aan filmreëls te voldoen.

In die subteks gaan Ballade vir ʼn Enkeling oor ʼn man wat te maklik vertrou het en mense te gou in sy lewe toegelaat het en ʼn bittere prys daarvoor betaal het. Nou is dit verby en het hy met die regte mense oorgebly.

Dit gaan egter ook primêr oor ʼn vrydenkende alleenloper, wat na vryheid soek en wat op geen manier gebonde wil wees aan ʼn baas, ʼn huwelik, kinders, onnodige verantwoordelikhede of ander dinge wat hom knel nie. Maar betaal hy dalk uiteindelik ’n prys vir hierdie persoonlike selfsug?

Vir Jacques is skryf en die worstel met ʼn storie en die mense na aan hom (wat hom nie veraai het nie) van die allergrootste belang. En dit is waaroor Ballade vir ʼn Enkeling eintlik gaan. Oor ʼn man wat, ten spyte van wat alles met hom gebeur het, uiteindelik vryheid, ook van homself en die monsters in sy onderbewussyn, gekry het. En wat skryf hartstogtelik liefhet in ʼn venynige industrie wat sukses dikwels op die mees brutale wyse probeer vernietig.

Dit was vir my ’n lewensverrykende ervaring om gereeld op stel te wees en te sien hoe die regisseur die tonele op film verewig presies soos ek dit in my kop gesien het toe ek dit geskryf het.

- Leon van Nierop

Vennote & Borge